Saturday 24 May 2014

VERDWAAL IS NIE VIR SPIETKOPS NIE

Nouja  die van julle wat my reputasie van verdwaal ken, sal hierdie storie maklik glo.  Die verdwaal-monster loop al donkie-jare saam met my.  Vroeer het dit my nogals ongemaklik laat voel, maar so met die koms van die ouderdom, het ek maar vrede gemaak met die feit dat ek nooit met die eerste probeerslag by my bestemming uitkom nie.  Ek ry altyd ‘n ompad, ‘n draai of ‘n onbekende roete. 

Genadiglik het tegnologie dit nou al vir my makliker gemaak, maar ek het n sterk vermoede dat ek die enigste mens op aarde is wat met die hulp van ‘n GPS nog maklik kan verdwaal.  Ek en Godzilla – soos myne gedoop is – misverstaan mekaar gereeld.

Maar die dag toe ek en Simon, Port Alfred se verkeersbeampte,  se paaie kruis, was by uitstek die mees opwindendste verdwaal  wat ek nog beleef het.

Vroe-more laai ek vir Vriendin by haar suster af en gaan winkels toe.  Die lysie is lank en my gedagtes beslis nie by padkaarte en roetes nie.  Toe ek dus met hande vol pakkies terug in my kar klim en besef Godzilla le by die huis, begin die sweet op my voorkop opdam en my asemhaling raak vlak.

Onwetend beland ek darem op die regte pad en moes net aanhou ry het – minder as ‘n halwe kilometer verder het Vriendin sit en wag.  Maar my oog vang die wit kar met die blou ligte  langs die pad onder n boom  en dit maak my sommer kalmer. Met ‘n verkeersbeampte se hulp kan dinge mos nie verkeerd gaan nie. 

Simon is die vriendelikste verkeersman wat ek nog teegekom het.  Hy glimlag van oor tot oor en se die saak is reg.  Hy ken die adres waarheen ek op pad is en ek moet hom volg.  Net daar maak ons ‘n U-draai en toe begin die sports.  Simon skakel al die blou ligte en sirenes aan en daar gaan ons.  By elke interseksie  stop hy met skreeuende remme in die middel van die pad, bring al die verkeer tot stilstand en laat my oorry, swaai dan vinnig weer voor my in en neem die leiding tot by die volgende interseksie. So al flitsende ry ons deur Port Alfred se hoofstraat en systrate. Nadat ons die dorp kruis en dwars deurreis het, beginne ek besef dat Simon besig is om die pad byster te raak, want ons vorder nie.

Hy stop in ‘n systraat en ek stop in die systraat en ons sit koppe bymekaar.  Al genade - toerisme kantoor toe met ons, sodat hulle kan help.
Daar gekom ontmoet ek nog meer vriendelike mense en hulle deel padkaarte uit en beduie, maar ek gooi wal en se “Nee gee die kaart vir Simon.  Hy ken die dorp en sal makliker ons weg vind” wetende dat ek nie ‘n kaart kan lees om my lewe te red nie.  Simon knik sy kop en se die saak is reg – nou weet hy presies waarheen ons moet ry. Kaart in die hand en ‘n spietkop wat jou lei kan dinge mos net goed gaan.  En daar gaan ons toe weer.
 
Hoofstraat op en systraat af, blou ligte en ‘n sirene of twee  om ‘n halstarrige motoris in sy spore te stuit.  Aanvanklik voel ek baie verlee, want die dorp het tot stilstand gekom en niemand weet presies wat aangaan nie. Gelukkig nie lank nie toe verander die verleentheid in ‘n gevoel van opgewondenheid en begin ek  voel soos pure 'Royalty.'  Ek kan amper nie glo wat besig is om te gebeur nie en besluit daar en dan om tog net ‘n steel fototjie op my selfoon te neem.

Maar nog is die einde egter nie, want Simon kan ook nie ‘n kaart lees nie en ons verdwaal weer in ons peetjie in.  Gelukkig besef Simon hy sal nou sy eer op een of ander manier moet probeer herstel en stop langs ‘n ou tante wat padlangs loop.  Simon spring uit en ek spring uit en versoek vriendelik dat sy vir my ook verduidelik, want lyk my nie ek gaan vandag met Simon regkom nie.

Sy verduidelik baie mooi, soos net ‘n vrou van haar jare kan verduidelik, en daar gaan ek en Simon weer vir n derde keer. Hoofstraat op en systraat af, blou ligte, sirene of twee en 'n spierwitte handskoen  wat hy gebruik om die verkeer te stop. Hierdie keer lyk die pad egter bekend en ons vorder in die regte rigting.

Na baie lank kom ons uiteindelik by my bestemming aan, waar almal al dood bekommerd wag en wonder.  Almal het darem my Simon-Storie baie geniet en boonop geglo, want verdwaal die kan ek en dit is geen geheim nie.


Moet se ek en Simon is nou BFF's. (Best Friends Forever). Hy het vreeslik verskoning gevra met ‘n yslike Eish!! Miskien tyd dat Simon sy eie Godzilla kry.







No comments:

Post a Comment

Featured post

A WHALE OF A TIME

I was dressed for the occasion and waiting to embark on an exciting adventure. Ready and eager to set sail on a whale and dolphin-watching t...