Wednesday 10 February 2016

VIERBOERBOKKEMETEENSKOOTMORSDOODGESTAMP





Hierdie storie moet ek so gou as moontlik uit my gestel kry. Nie net was dit my eerste ongeluk in al die jare wat ek bestuur nie, maar dit was ook op my mees uitputtenste reis ooit. Nee, nou jok ek. My reis tussen Heathrow en Dubai in 2013, was die ergste. 'n Aar het in my been gebars toe ek 40,000 voet bo die aarde in 'n vliegtuig gesit het en ses ure van hel het selfs in 'n luukse A380 soos 'n leeftyd gevoel.

Die wat my ken, weet hoe lief ek die wapad het.  Ek word nie verniet die sigeunervrou of sommer  'Gypsy' genoem nie.  Na 'n paar maande tussen beton en staal begin my sitvlak kriewel en moet ek my tasse pak en plek soek waar my voete 'n volgende holte kan vind.  Sommige van die holtes waar my twee voete die afgelope paar jare al gerus het, was wonderlik en het my met pragtige herinnering gelaat.  Ander was minder nommerpas en ek moes gouer oppak en nuwe holtes vind.

My stokou kar, 'Blou Bliksempie' soos sy gedoop is, was weereens tot maksimum kapasiteit gelaai toe haar blou neus, lank voor sonsopkoms, koers kies na die grens tussen Namibia en Suid Afrika.  Die oggend was soel en die dagbreek was op pad.  My eindbestemming, Kaapstad, het 1500 km. ver gelê.

Alhoewel ek bekend is met die spesifieke roete, bly dit 'n uitmergelende rit.  Dis nou een stukkie pad wat ek nie kan 'sugarcoat' nie.  Dis ‘n warm pad in die somer, hel-warm.  Daar is nie bome, wolke of enige vorm van koelte en skadu  op daardie stuk pad nie.  Dis woestynland en in 'n woestyn vind jy min waterstrome of riviere wat kabbelend oor klippies vloei.  Afstande tussen dorpe is groot en nedersettings of gehuggies wat as 'n dorp bekend staan, is te nederig vir luukses soos 'n '24 Hour-Mobile-One-Stop.'  Dis jy en jou waterbottels, jou biltong (as jy 'n vleiseter is) en jou lemoene.  Gesigwas en piepie vind soms plaas in kleedkamers wat eerder 'n kleinhuisie genoem behoort te word. Nietemin, my liefde vir Namibia, my geboorteland, is welbekend en ek weet ek gaan daardie einste droë, dorre stuk pad iewers in die toekoms weer ry.

My rit het nogtans goed begin.  Dit was nog donker en koel en die radio het vrolike Duitse musiek gespeel. Die eerste dorp na Windhoek is Rehoboth.  Dis 'n pragtige dorpie, met gemiddeld 20,000 inwoners.  Dit is 'n oorwegend  Baster Gemeenskap (een van die baie bevolkingsgroepe in Namibia), wat vandag nog volgens hul voorvaderlike wette, (paternal laws) lewe. Die afstand tussen Windhoek en Rehoboth is net onder die tagtig kilometers en meeste van die werkende inwoners beoefen 'n beroep in Windhoek.  Die paar dokters, onderwysers, prokureurs, staatsdiensmanne en -vroue wat in Rehoboth woon, is te min om veel diensleweringsinstansies te regverdig.   Hier, soos op enige plattelandse dorpie, is werk skaars.

Met ietwat van 'n irritasie het ek besef hierdie tagtig kilometers gaan lank neem om klaar te kom.  Die stroom ligte van vooraf het nie vir verbysteek plek gemaak nie.  Dertig kilometers duskant Rehoboth beland ek en meer as twee hande vol motoriste agter twee trokke wat waterhouers vervoer.  Die houers reik hoog die lug in en maak verbysteek nog meer onmoontlik.  Die uiteinde van die saak is 'n dertig kilometer-lange afstand, teen 'n spoed van hoogstens 60 kmpu.  Ek en stadig ry is nie baie goeie maats nie en ek was terdeë bewus van die feit dat ek nog 1500 km. moes ry voor ek my bestemming sou bereik.  Stadig maar seker het my kraag begin rooi raak, maar van die van julle wat al ooit in so 'n situasie was, sal weet, rooi kraag of nie, sit die sit jy agter daardie trokke.

Die dertig kilometers was egter gou vergete toe my kar se wiele singend die pad Mariental toe vat.  Mariental is die grootste vesting van die Namas (nog een van die bevolkingsgroepe in Namibia).
Dit is geleë naby die Hardap dam wat die grootste reservoir in Namibië is.  Dit verklaar dus die hoeveelheid plase in die omgewing.

'n Honderd of so kilometers nadat ek Mariental se stof agter my gelaat het, was ek rustig op spoed en het uitgesien na ‘n stewige ontbyt op Keetmanshoop. Meeste motoriste neem 'n blaaskansie op Keetmanshoop, want van daar af raak die niks al meer.

Almal van ons wonder seker op een of ander stadium van ons lewe, hoe ons tot onse einde gaan kom.  Siektes soos ma en pa, oupa of ouma of gaan ek my einde in 'n vliegtuig, boot of te perd tegemoed  gaan.  Persoonlik het ek maar altyd gereken dit sal iewers op 'n pad wees.  Bloot omdat ek bekend is vir die hoë spoed waarteen ek ry en tweedens oor ek so baie ry.  Ek ry ver en ek ry vinnig!  Toe ek dus op die spul boerbokke in die pad voor my afkom, toe weet ek daardie dag het aangebreek.  Ek is nie baie slim nie, maar ek het baie gou besef ek is te naby daai spul boerbokke en my spoed is te hoog.  Self met die beste ABS-remme het jy 'n minimum afstand nodig om jou motor tot stilstand te bring, en daardie afstand die het ek nie gehad nie.

Toe ek die eerste boerbok tref en hy deur die lug trek, toe weet ek: hier kom 'n lelike ding.  Met bok nommer een uit die pad is daar toe nog 'n see van boklywe voor my.  Bok twee word getref en hy slaan neer op die warm teerpad.  Natuurlik veroorsaak sy val toe 'n domino-reaksie en bok drie val en ek sien en hoor hoe bok vier val.  En net daar word hulle deur Blou Bliksempie die ewigheid in gesleep.  Of hulle nou gemaak het hulle is dood en of hulle werklik dood was, die sal ek nou ook nie kon se nie, maar daar was geen skop of asem in daardie bokke meer oor nie.

Ek kom uiteindelik tot stilstand en staar in ongeloof na die spul dooie bokke om my.  Bok nommer een het egter op hierdie stadium nog lê en skop.  Daardie twee sterwende oë en vier skoppende pote sal ek lewenslank onthou.  Ek is van nature nie baie lief vir diere nie.  Slange en perde is omtrent al diere vir wie ek ooghare het, maar diere doodmaak was darem nog nooit iets waarvoor ek bekend was nie.  Ek is 'n kampvegter teen dieremishandeling, jag, geblikte leeu skietsessies en mense wat bloot 'n pragdier sal skiet om 'n opgestopste koedoekop teen sy voorhuis se muur as trofee te kan uitstal.

Toe ek uiteindelik tot verhaal kom, klim ek met jellie-bene uit en bekyk die skade.  Op daardie oomblik besef ek dat ek liewer as ooit is vir Blou Bliksempie en dat ek nooit enige ander kar as 'n Volkswagen op my werf sal toelaat nie.  Die skade aan my motor was minimaal en ek was ongeskonde. Ek kyk rondom my, verby die bokke, op soek na ‘n mens.  Iewers moet daar tog iemand wees wat vir hierdie bokke verantwoordelik is.  Maar daar is niemand in sig nie.  Ek klim sleepvoetend terug in my kar en ry verder.  Nie ver gery nie toe sien ek die veewagter in my truspieëltjie.  Ek sien hoe hy sy rooi vlaggie waai en vir 'n oomblik oorweeg ek dit om om te draai, maar ek besef ek gaan dalk onverantwoordelike gedrag openbaar as ek voor hom staan, want na die skrik kom die woede.
Woede oor daar n draai in die pad is, woede oor die afwesigheid van 'n veewagter met 'n rooi vlaggie, woede oor die bokke en die veld dieselfde kleur het en sommer groot woede vir die boer wie se boerbokke dan nou juis daardie tyd van die oggend 'n hoofpad moet kruis.

Natuurlik verdwyn my eetlus as ek skrik en van ontbyt op Keetmanshoop is daar toe geen sprake nie.  Keetmanshoop, soos so baie Namibiese dorpies, het ontstaan as 'n sendelingstasie.  Die dorp is vernoem na die Duitse handelaar, Johann Keetman wat die sendelinge finansieël ondersteun het.

Ek sluk toe darem 'n energiedrankie, eet 'n stuk gesmelte sjokolade en hervat my reis.  Die hitte is ondraaglik, want my kar se lugversorging werk nie, maar ek hou van hitte en begin uitsien na my volgende stopplek: die grenspos tussen die twee lande.

Nie lank nie of 'n motor van voor waarsku met flikkerende ligte.  Onmiddelik verminder ek spoed, want dit is gewoonlik die teken van 'n verkeerskonstabel wat wag vir sy of haar volgende prooi.
Toe nie!  Hierdie keer was dit nie 'n draai in die pad wat vir my 'n onsmaaklike verassing gebring het nie, maar 'n bult.  My oog is op soek na 'n wit motor met 'n blou lig en dit neem my meer as 'n sekonde om te sien wat voor my in die pad aangaan.  'n Mens-grootte skildpad, besig om stadig en statig aan my kant van die pad te stap.  Regs kan ek nie verby nie as gevolg van aankomende verkeer en links het ek nie genoeg spasie nie.  Ek besef ek is te naby daardie groot skilpad vir stop.  Die gedagte: "Vandag is daardie dag wat jy dit nie gaan maak nie" gaan weereens deur my kop.  Ek weet tot vandag toe nie hoe ek om daardie skilpad gekom het sonder om hom dood te ry of sonder om my kar om te gooi nie, maar ek moes iets reg gedoen het.   Natuurlik is die skrik toe weer terug in my lyf en ek wonder op hierdie stadium hoeveel skrik 'n lyf op een dag kan hanteer.


Buite sing die sonbesies en die kraaie gaap.  Ek drink liters gevriesde water en gooi 'n bottel yswater oor my kop.  Die termometer se kwik het al verby 42 grade Celsius geklim.  Die ysige waterstroompie wat neklangs teen my rug afloop, bring egter verligting.   Van Keetmanshoop af word die pad al stiller en dis hier waar onheilige gedagtes deur jou kop begin maal.  Daar is min motors op die pad; geen hulp, sou iets gebeur nie en 'n son wat genadeloos op jou bak.  My uithouvermoë word hier tot op die uiterste beproef.  Nou moet ek noem dat diere in Namibië dieselfde reg op 'n nasionale pad het as 'n motoris.  Op hierdie stadium was al my lyf-, kop- en sintuig-radars op vol sterkte aan’t werk en ek trap rem vir elke voël, muishond en akkedis. Vir nog 'n dieredood gaan ek beslis nie verantwoordelik wees nie.

Nie lank nie toe gevaar ek 'n slingerende motor voor my in die pad.  Met die naderkom lees ek aan wie dit behoort:  NAM POSTAL SERVICES.  Ek besef die man kan nie dronk wees die tyd van die oggend nie en vermoed hy is besig met 'n geveg teen die slaap.  Hy swenk gevaarlik van links na regs en ek begin wonder hoe ek by hom verby gaan kom.  Ek sien egter nie kans vir 'n tweehonderd kilometer rit agter 'n spul slingerde possakke wat teen 'n spoed van 50 kmpu. beweeg nie. Verby sal ek moet verby.  Ek wag my kans af en toe Mnr. Posman sterk links is, verwissel ek ratte en ek sit my voet stewig op die petrolpedaal.  Die arme mens het my natuurlik nie daar verwag nie en skrik hom buite weste wakker en swenk skerp na regs.  Hoe ek verby daardie swenkende bakkie gekom het, sonder om ‘n ongeluk te maak, weet ek weereens nie.  Ek vermoed my spoed het iets daarmee te doen gehad en ek besef dat vinnig ry tog soms sy voordele het.  Na hierdie insident is ek toe egter glad nie meer myself nie.  Die dood lê en wag vir my om elke Namibiese draai en bult en ek weet dis 'n kwessie van tyd voor hy my gaan inhaal.

Dis al middel van die dag en al wat binne my lyf is, is 'n paar blokkies Nestlé sjokolade, liters water en baie skrik.  Ek is oud genoeg om te weet my liggaam het nou kos en koffie nodig.
Die Namibiese noodlot besluit egter hy is nog nie klaar met my nie.  So in die wapperende wind, wat deur my venster waai, ruil ek musiek om. Met my linkerhand haal ek die een CD uit die radio en in my regterhand hou ek die stuurwiel en 'n ander CD vas.  Die volgende oomblik ruk die wind daardie CD uit my hand en hy vlieg s(n)ykant teen my wangbeen vas. Nou kyk, ek is nie 'n kleinserige mens nie, maar daardie was 'n seer hou en die trane begin vloei en ek huil die huil van ‘n begrafnisganger. 'n Huil wat sommer vir als moet opmaak wat op daardie dag verkeerd geloop het.   Die gewraakte CD word summier by die venster uitgesmyt.  Iewers sal 'n bokwagter hom eendag optel en aan die voorbok se nek hang.

By die grens gaan dit wonder bo wonder baie goed.  Die Immigrasiebeampte stempel lui-lui my passport en die polisieman gee my kar een kyk en plak sy stempel op my permit.  Vyftig meter
na die grens is daar 'n klein winkeltjie wat vir die moeë motoris lafenis moet bied.  Ek stap die donker, stofbelaaide kafeetjie binne, maar vind niks wat ek kan eet nie. Hoe sê die ou spreekwoord:
Dis toe die kersie op my koek.  Ek verloor my humeur net daar en dan, iets wat nie maklik met my gebeur nie.  Ek bevlieg die vaal mannetjie agter die kasregister en vertel hom als wat daar te vertelle is oor hulle nie voorsiening maak vir kos vir nie-vleisetende mense soos ek nie.  Ek kon sien hy het die aanval nie verwag nie.  Hy kyk my grootoog en oopmond aan.  My bedaar kom egter skielik, want daardie oog lyk soos boerbok nommer een se oog.  Die een wat ek nooit ooit sal vergeet nie. Toe storm ek die kafee uit, sonder kos en water.

Terug op Suid Afrikaanse bodem is die dorpe darem nader aanmekaar en ek het weer nuwe moed vir die 800 kilometer wat nog voor my lê.  ‘n Paar kilometers verby Springbok pak die floute my egter behoorlik.  Die skrik, adrenelien, kwaad en seer is weg en al wat oorbly is 'n intense moegheid, hongerte en dors.  Dit sou paslik wees om te sê ek wou vrek van ellende.

Gelukkig het ek oulike kinders wat my telefonies van die pad af dwing en reël dat ek oorslaap op Van Rhynsdorp en die volgende dag met 'n vol maag en 'n goeie nagrus die res van my tog aanpak.

Ek en Blou Bliksempie hou na dese natuurlik nog minder van diere.  Veral nie van boerbokke met groot ronde oë nie!  Dis tyd dat Blou Bliksempie 'n 'bull-bar' kry, maar sy weier volstrek, want sy is nie 'butch' nie.


Eind goed, alles darem goed soos my ou vriend sou sê.















Featured post

A WHALE OF A TIME

I was dressed for the occasion and waiting to embark on an exciting adventure. Ready and eager to set sail on a whale and dolphin-watching t...