Tuesday 3 March 2015

Brandkos van Bhutan


My liefde-lysie is oneindig lank, maar as ek moet uitsonder, pryk mense, reis en kos heel bo-aan.   Die mensdom lê my baie na aan die hart.  Mense met weemoed en wanhoop, mense wat honger en dors na wie weet wat ookal.  Mense wat van hoogtes wil afspring oor hulle nie meer kan of wil voortswoeg nie.  Ou mense, siek mense, sterwendes, swanger dertienjariges, prostitute, padlopers en gehawendes.  Mense wat in gutters en onder sinkplate woon en mense wat elke dag die bottel of die spuitnaald nodig het om te oorleef.  Die wat my ken weet ek kruip graag in gate, hole en plakkerskampe in.  Ek dwaal op die afdraai- en pothole paaie.  Ek bedel vir die armes en omhels die boemelaars. 

Die lang pad tussen nêrens en êrens neem my met 'n ompad na die juwele van ons pragtige land.  Maar hierdie blog gaan nie oor my liefde vir reis, my land en/of die mense wat my pad kruis nie.  Nee dit gaan vandag oor my achilleshiel, kos!  Vreemde kos, etniese kos, kos wat ongemaklik voel op die Afrikaner tong en onbekend op die boere-volk oor.  Soos baie ander, lees hierdie vrou ook kosboeke eerder as die Ena Murray's en die Wilbur Smith's.

Laat ek dit baie duidelik stel, kosmaak soos in brêkfis vir vol fiemies kinders, middag-ete vir die tuinman en aandete vir pa en kroos staan my nie aan nie.  Dit bied geen uitdaging nie, want pa eet net rys, vleis en aartappels volgens sy ouma se resep en boet is op 'n Spur vleis-dieet.  Sus lewe van komkommers, ryskoekies en groen tee.  Hoe, vra ek jou, bly mens staande in die kombuis met so 'n uiteenlopende groep eters.

My kosreis, met behulp van boeke, mense en die kuber, neem my na vreemde lande.  Lande waar ek kennisse, vriende en selfs familie het.  Wie in Suid Afrika het deesdae nie meer familie iewers buite ons grense nie.  Mense wat moes trek oor die land te beklemmend geword het en oor baie ander redes.  Maar ek gaan nie vandag oor daardie mense praat nie.  Vandag wil ek vertel van my vriendin in Bhutan en hul liefde vir rissies.

Bhutan, Land of the Thunder Dragon, die piepklein, gelukkige landjie, versteek in en omring deur die magtige Himalayas, word regeer deur sy jong Koning Jigme Khesar Namgyel Wangchuck met sy pragtige Koningin, Jetsun Pema aan sy sy. Bhutan is nooit gekolonialiseer nie en sy inwoners is baie trots daarop.  Invloede van buite word nie maklik toegelaat nie.  Die meeste van die inwoners dra daagliks die nasionale drag, die kira vir vroue en die gko vir die manne, en almal drink botter-tee (Su Ja)  om warm te bly.





Ugyen, my paper friend, soos ons mekaar noem, en haar gesin, woon in Thimpu, die hoofstad van Bhutan.  Die enigste stad ter wêreld waar die verkeer nie deur verkeersligte beheer word nie, maar deur die plaaslike polisie met hul unieke handgebare.

Ugyen is ‘n ingenieur.  Sy bou paaie en brue en probeer lewe as Christen in ‘n land waar 99.9% van die bevolking Boedhiste is.  Alhoewel sy volhou dat die Christen God die een is wat sy nou wil dien, hunker sy terug na haar prayer flags-, kleurvolle shrines- en monastery dae.  Ek vermoed sy gaan nie lank as Christen staande bly nie.

Ons ken mekaar al jare en ruil ons land-stories, gesinsgeraamtes en kombuis-lekkertes met mekaar.  Sy het my bekendgestel aan onder andere, hul nasionale gereg, ema datshi, ‘n rissie-en-kaasbredie.  Ema datshi is weliswaar te warm vir die Afrikaanse tong, maar met 'n bietjie verbeelding en minder rissies bly dit ‘n gereg wat elke rissie- en kaasliefhebber ten minste een maal moet probeer.

Natuurlik is yakkaas nie beskikbaar in ons land nie, maar so deur die proe- en proefproses het ek gevind dat Deense Feta net so goed werk.  Hier is dus my aangepaste Afrikaanse weergawe van ema datshi.    Ema datshi word tradisioneel met rooi rys bedien.  Bykans onbekombaar in ons land, alhoewel ek dit tog al op ‘n rak of twee raakgeloop het.  Bruinrys of gewone langkorrel witrys werk goed as plaasvervanger.

Bestandele:
200 tot 250g groen rissies in lang repe gesny.  Verminder as jy nie kans sien vir al die hitte nie en verwyder maar meeste van die pitjies.
250ml water
1 groot ui fyn gekap
2  groot, ryp tamaties skilletjies verwyder en opgekap
1  groot aartappel in blokkies gesny
250g Deense Feta ook in blokke gesny – nie te klein nie
5 huisies knoffel fyn gekap
'n handvol koljander gekap
 2 eetl. kook-olie (nie olyf nie)
‘n Handvol ekstra wit harde of semi-harde kaas gerasper  (Cheddar, Emmethal, Bokmelk, Gruyer)
Gaar rys van jou keuse

Metode:
Braai uie en rissies liggies in olie.  Moenie verbruin nie. 
Voeg tamaties, knoffel en aartappel by en braai vir nog n paar minute.
Voeg water by en kook vir 10 minute.  Meeste water moet wegkook.
Voeg kaas by en prut saggies vir n minuut of twee.
Voeg gekapte koljander en die handvol gerasperde kaas by, plaas deksel op en skakel plaat af. 
Bedien met rys.


Bogenoemde dis is net vir die wat die hitte van 'n rissie kan vat.  Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige ongevalle nie.



Die manne in Ugyen se lewe.
Foto vergunning Ugyen.

Ugyen en haar gesin reg vir skool en werk.
Foto vergunning Ugyen





Koning en Koningin van Bhutan
Foto vergunning Imgur



Verkeerpolisie Thimpu
Foto vergunnign Imgur




Log Jay Gay. 

  

No comments:

Post a Comment

Featured post

A WHALE OF A TIME

I was dressed for the occasion and waiting to embark on an exciting adventure. Ready and eager to set sail on a whale and dolphin-watching t...