Wednesday 13 March 2013

OOR SUSSIES WAT TE GOU DOODGAAN


Vanoggend toe ek wakker word, met weereens ‘n diep donkerte hier in my siel, toe weet ek dis tyd dat ek hieroor skryf.   Woorde doen my goed.  Praat hieroor kan ek nie, sing sal nie werk nie, so ek skat skryf is die enigste opsie.

Toe ons nog vier was.
Ek sal lieg as ek sê ek is nie bietjie kwaad oor my sussies my alleen agtergelaat het nie.  Kleintyd al het ek hulle die Leviete voorgelees en gevra om dit nie te doen nie.  Maar ek glo ook dat dit nie hul bedoelinge was nie – min mense gaan opsetlik dood.

Die dag toe A. my oor die foon meedeel dat Ria Mesetilioom het en dat sy geen, maar geen kans het om gesond te word nie, het ‘n stukkie van my siel doodgegaan.  Ons was buddies – kleintyd tot groottyd.  

Saam het ons kinderjare armoede oorleef en ontvlugting uit Prieska gesoek deur te trou.  Saam het ons rooi hakskene gekry, mammas geword, huwelike trotseer en toekomsdrome gedroom.  Ons was lief vir mekaar. 
 
Ria die Mooi Sussie
Sy was pas 40 – sussies gaan nie dood op 40 nie.  Ons moes saam oud geword het, saam gaan rocking chair ry het in die oue-tehuis.  Maar nee! ..Toe moes die  verdomde asbes sy ystervingers in haar longe kom plant en aanhou groei tot haar long een klipharde stuk yster is. Ria – die een met die stukke goud in haar hart. Die mooi sussie, die baba sussie.  My sussie!!

Cape Blue Mines was ‘n Britse maatskappy en bestaan vandag gelukkig nie meer nie, maar hulle het kom neem wat nie aan hulle behoort het nie.  Verwoesting kom saai. Die Grieke het hierdie asbes die wonder metaal gedoop. Die Asbes-storie was voorbladnuus wêreldwyd en het selfs ‘n draai by die Waarheids en Voorsienings Kommissie gemaak. Brindaweni Naidoo van Mining Weekly noem dit ‘n ‘Medical Time Bomb’.  Tereg ook. Die asbes-stofwolk van destyds hang vandag nog oor Prieska. Vandag word hy die doods-wolk genoem.

Die rou proses vat lank, soms jare.  Ek het gestoei om kinders groot te maak, ‘n stormagtig verhouding te oorleef, ‘n voltydse, uitmergelende werk te behartig en tussen in te rou oor ons kleine Mier.  Kleintyd die naam gekry oor sy so woelig was.  Maar eendag word jy wakker en besef die ergste pyn is tog bietjie beter en ek kon weer na ons jongmeisie-Kimberley-kiekies kyk met ‘n glimlag.  Die roof  was af, maar die letsel het bly sit.

Life goes on al wil jy roep “Wêreld staan stil ek wil afklim!!”.

Vier jaar later word Susan siek.  Sy word sommer baie siek en ons wil nie die waarheid aanvaar nie.  EK WIL DIT NIE AANVAAR NIE.  Nie nog ‘n Mesetilioom nie.  Sy het minder veggees as Ria en sien nie kans vir 4 jaar se chemo en bestralings marteling  nie.  Ek stap die 9 maande, dag vir dag, saam met haar.  Ek is kwaad en sy  nog kwater.  Ek doen wat gedoen moet word, maar binne my skeur ek in stukkies. Sy sterf 9 maande na haar diagnose. Ek trek die wit laken saggies oor haar vervalle gesig.  FINAAL.

Susan, die Wildeloot

Teen hierdie tyd is my verhouding nog meer stormagtig en die kinders en werk meer veeleisend.  Ek cope nie meer nie.

Haar begrafnis is ‘n marteling en ek belowe myself  dat ek dit nooit aan my naasbestaandes sal doen nie.  Geen begrafnis vir my nie.

My rouproses vat weereens lank, want ek sukkel met skuldgevoelens.  Skuld oor ek miskien te min gedoen het vir my ou sus. Haar huwelik was net so stormagtig en beland finaal op die rotse kort voor haar siekte.  Nog ‘n sus wat te gou sterf.  Verdomp!!

Life goes on – once again en die wêreld gaan nog steeds nie stilstaan sodat ek kan afklim nie. 

Gelukkig vir my is Ousus nog daar.  Die stabiele een, die altyd in beheer een, die sterk een.  Nie verniet ‘n Leeu nie. Die asbes-monster dwing ons nader aan mekaar.  Ons huil op mekaar se skouers oor ons sussies wat weg is, ons wonder oor die hoekoms en waaroms en ons kuier ‘n hond uit ‘n bos uit as ons die dag bymekaar kom.

Ons leer van vooraf lag. Lag oor ons hartseer en oor ons kwaad  -  oor dinge nie verloop soos ons dit wil hê nie.

Antjie se lewe lyk goed.  Sy trek see toe om op haar oudag skulpies op te tel en na die Afrika son te staar as hy sak.  Nêrens op aarde sak die son so mooi as hier in die suide nie.  Ons praat amper daagliks oor al die lekkertes van die lewe, die hartsere wat ons oorkom het en die oudag-toekoms wat vir ons wag.  Ons gaan saam die rocking chair in die oue-tehuis ry.  

Tot die dag toe sy bel en sê “Sus ek het Kanker” .  Mens sou reken dat ek teen die tyd al opgewasse behoort te wees teen sulke oproepe – toe nie.  Ek word sommer net daar vir haar kwaad en vaar uit teen al die witbrood wat sy ge-eet het, al die jare wat sy te hard gewerk het vir ‘n dokter en sommer nog baie ander goed oor ek regtig egtig kwaad is.

Moedig  stry sy hierdie K-stryd. Die pad was nie maklik nie. Sy't min gekla - bitter min vir iemand wat so baie, baie siek was.   Gelukkig vir haar het sy ‘n wonderlike gesin wat haar deur die donker dae dra.  Saam huil ons, wonder ons en hoop ons. Die wat glo, bid.  Selfs die wat nie glo nie, bid. My hele wese voel donker. Ek stoei om hierdie een te verwerk.  Ek wil so graag saam met haar glo dat sy gesond gaan word, maar toe ek die dokters-verslae deurlees toe weet ek, haar tyd op aarde is verby.   Haar uurglas gaan vinnig leegloop.  Die dokters belowe 2 jaar, meer en selfs 15,  maar die groot K wen nog ‘n rondte.

Gelukkig het ek die voorreg gehad om haar gesig in my hande vas te hou toe sy sterf en haar hartseer oë saggies te kon toemaak, terwyl ek stadig die laken oor haar gesig trek.  FINAAL!!

 Patat (haar kleintyd troetelnaam) is nou by Mier en die res van die familie.

Ek mis jou so Antjie.   Ek mis jou lag – ons lag.
Ek mis jou lag Antjie

                Al wat oorbly is die onthou.
Die 10c wat jy my kleintyd betaal het om ‘n maand lank jou skoene skoon te maak.
Die souskluitjies (sy was ‘n Meester in souskluitjies maak) wat flop toe jy dit vir my wou demonstreer
Die laatnag oproepe toe ek na 20 jaar weer alleen op my voete moes staan en jy moed inpraat.
Die aand toe jy saam met my wakker bly om my kind veilig  uit Dubai te kry.
Ek onthou ons enerse gebreide rokke wat vir Krismis gekoop is.
Ek onthou die mussie wat jy geirriteerd rondskuif toe jy so siek was.
Ek onthou hoe ons kon lag en huil tussen die wyn en morfien.
Ek onthou jou lag Antjie – ek hoor hom snags as ek rondrol en wonder hoe ek alleen gaan oud               word.

Ek sukkel nog om na jou kiekies te kyk, maar ek glo die roof sal afval en dan gaan daar nog vele lekkertes oorbly om te onthou.






Maar soms is onthou nie genoeg nie.
Vir wie moet ek bel as ek my doodstyding kry, Antjie?. Vir wie, vra ek jou? 


               
               
            



No comments:

Post a Comment

Featured post

A WHALE OF A TIME

I was dressed for the occasion and waiting to embark on an exciting adventure. Ready and eager to set sail on a whale and dolphin-watching t...