Thursday 7 March 2013

MONTAGU MEMORIES


Verreweg  die lekkerste prys wat ek nog gewen het.  Twee salige dae van niksdoen  en leegle.  Missy en ek het vroe more die pad uit die Kaap gevat en al met die mooi roete langs, oor die passe en deur die klowe na Montagu gery. Geskaterlag oor die bobbejane met die lelike leerboude en tonge geknoop om DuToitskloofpas, Hexriviervallei en Kogmanskloof soos ‘n Afrikaner agter ouma aan te se.  Dit is moeilike woorde vir ‘n klein Brit.

 Singende en lerende (want dit is immers ‘n skooldag) en stoppende  - by elke padstal wat meer as 3 vlaggies het.  Dis gawe mense wat in hierdie omgewing bly.  Sommige lag oopmond-uittand en verwelkom ons met sulke opregte warmte. Kan amper nie glo  dieselfdes het onlangs nog  klippe gegooi en tyres gebrand  nie.  Ek  het  egter simpatie met hulle.  G’n mens kan ‘n gesin met ‘n R100-noot vir ‘n dag voed, klee en skoolgee nie.  Al koop jy Pepstores tekkies en skaap-afval by die slaghuis.  

Die mense by ontvangs is net so vriendelik – opreg vriendelik – hulle wag al van vroeg af dat ons moet inboek. Die huisie is pragtig skoon en ‘n stukkie groen  malva uit die tuin pronk op die koffietafel.  Ek voel sommer goed oor my kiekie die prys gewen het.  Net hier en nou belowe ek myself om volgende week weer in alle erns aan al wat kompetisie is deel te neem..  Mens kan  lewe met so ‘n verniet-wegbrekie hier in die middel van die week – in die middel van die maand en in die middel van ‘n skoolkwartaal. Tuis-ondderig het sy voordele.

Ek en Missy moes eers stop vir proviand en Checkers op die hoek sorg vir kos op ons tafel.  Ons gaan natuurlik nie ure voor die kospotte staan nie, so hotdogs en MSG-Noedels werk goed.  Roomys sorg vir die kalsium, proteine, hier en daar ‘n mineraal en koolhidraat, maar meestal eet mens Magnums oor dit lekker is
.
Missy stel haarself  met die intrapslag aan as die leier – le die reels neer en laat my goed verstaan sy is Mommy terwyl ons hier is.  En mammies maak die reels..  Sy help fluks die kar uitdra en deps die ‘bed for two people’.  Granny het nie ‘n probleem om tweede viool te speel nie.

Na tee en Checkers se Bakers Koekies verken ons ons omgewing en ons besef dis mooi en lekker.  Dit baljaar te lekker in die poele, tel maatjies op en ry die skoppelmaai en swaaie met gille van plesier. Die maatjies is meestal plaasboerbulletjies uit die omgewing.  Hulle speel rof en praat ‘n Afrikaanse Engels.  Dis tone-kry-lekker toe 250 ganse gevoer word.  Die oord se manier om nog meer vir sy gaste te doen.
Voor 8 kom ‘Mommy Missy’ vir granny inlig dis slapenstyd.  Ons is gedaan.  Die reis in die warm kar, die swem, die buitelug – die suurstof hier ruik anders as in die Kaap –  alles dra by om  ons te dwing om mekaar vroeg in te tuck.

Hiers nie internet nie – die televisie het net een kanaal en musiek is beperk tot  mantras op ouma se skootrekenaar. Maar dis lekker om weer soos van ouds ander dinge te doen om die aand om te kry. Ons drink melk uit wynglase en eet warm rolletjies en gemmerkoekies.   Buite begin die naggeluide hoorbaar word.  Die stilte het klank.  Hier kan mens wragtag horingoud word – sonder stres.  More gaan ons die een-perd-dorpie-verken. Montagu is  pragtig en so ook sy mense.  ‘n Dorp wat omring is met berge kan mos nie anders as mooi wees nie.  So ‘n rustige mooi. 

Natuurlik loop die geskiedenis ook dik deur die dorp en sy omgewing. Die ou Engelse Fort (Fort Sydney) is as Nasionale Monument verklaar.  Staan al sedert 1899 bo op die ou tonnel. Verder spog Montagu met 14 Nasionale Monumente, ‘n museum en Joubert Huis wat in 1853 gebou is.

Hiers wingerde en warm bronne,  gedroogde vrugte en varses van die boom af. Hiers trout en olywe, kuns en hope kultuur.  Wyn van hier, daar en oral word sommer op die straathoek en stal verkwansel.

‘n Toer op ‘n donkiekar word aanbeveel, maar die loop net op ‘n Woensdag en Saterdag want die donkies moet rus en stamina opbou. Waar het ons die donkie-kar-toerbus-idee gesteel.  Griekeland of Indie of ons eie karretjie-mense van die Noordkaap?

Die boom by die Leiwaterdam met 52 soorte  voels klink vir my na die regte plek om more se Magnum te gaan sit en eet. 

Maar al hierdie lekkertes gaan ook maar tot ‘n einde kom en al wat saamgaan huis toe is die kiekies wat in die ‘memory-file’ gebere gaan word.  Oudag memories.



Eendag, ver in die toekoms, moet Missy  se memory-file vol lekker  granny stories wees.  Eendag wanneer sy bedtydstories vir haar en haar plaasboerbulletjie se kinders vertel.

No comments:

Post a Comment

Featured post

A WHALE OF A TIME

I was dressed for the occasion and waiting to embark on an exciting adventure. Ready and eager to set sail on a whale and dolphin-watching t...