Nee kyk, as iemand – maak nou nie saak wie nie – ‘n jaar
terug sou sê dat ek, hierdie einste ek eendag ‘n skooljuffrou sou word, sou ek
daardie iemand in sy of haar gesig uitgelag het. Ek was nog nooit ‘n teacher nie, wou nooit een wees nie en so by so hou ek nie van
onderwysers nie. Kleintyd herinneringe
skat ek.
Gee my ‘n sieke en ‘n kranke,
enige ou met ‘n skeet, kwaal of geit en ek nurse hom of gesond of reguit graf
toe. Maar om vir kinders te vertel dat een plus een twee is en dat ek voor my heilige siel weet dat dit nie altyd waar is
nie, dit kon en wou ek nog nooit doen nie.
Miss Dandelion |
Maar soos die ou noodlot maar met ons werk, beland daar allerhande stompe op ons pad en oor die moet ons oor. Die skole in die Kaap is tjok-en-blok vol. Nie ‘n gaatjie vir ‘n siel nie. Ons smeek en vra mooi en dreig en oorweeg selfs om die klein Britjie in ‘n Afrikaanse skool te sit, maar niks en nêrens is daar ‘n leë stoel vir Missy nie. Die klaskamers is tot oorlopens toe vol. Hoe een juffrou 40 woelige graad tweetjies kan leer spel of tel, gaan my verstand te bowe.
Pouse |
Maar skool die moet sy hê en al genade is dat ouma en mamma
maar die ding moet doen. Mammie is die
slim een en was al iewers in ‘n ver en vreemde land ‘n teacher vir kindertjies wat
sukkel om Ingels te praat. Maar ouma?–
nog nooit. Bystand met huiswerk, so hier
en daar ‘n taak vir boet of sus gedoen en ‘n resitasie geleer, maar verder
niks. Moet sê iewers in Granny se loopbaan was die woord Training Officer ook op
haar pligtestaat, maar dit het niks met skoolhou te doen nie. Daar staan jy voor ‘n klomp intelektuele siele en
vertel hulle goed wat hulle reeds weet.
Ek dwaal af. Die boeke word bestel en na ‘n lang wag (danky
‘n Poskantoor staking) arriveer dit uiteindelik. Ek en Missy maak die pak opgewonde oop en Oeee en Aaaaah vir ‘n vale. Maar ouma se hart word al hoe swaarder. Sy sien goeters daar wat g’n sin maak
nie. Goeters wat sy lankal vergeet het
en goeters wat sy nie eens geweet het kinders mag weet nie. Maar sy wys nie haar vrese vir Missy
nie.
Laataand stuur die nuut aangestelde grasgroen juffrou, boodskappe die wêreld in vir al haar onnie-pelle, familie en sommer
wildvreemdes ook. En almal gee raad en
praat moed in.
Dankie!!
Saam pak ons tweetjies hierdie nuwe uitdaging aan en kort
voor lank is skool nie meer ‘n monster nie en ons besef...........
tuis onderrig kan alte voordelig wees.
Opelug Klaskamer |
Mens
hoef nou nie noodwendig douvoordag Kellogg's Cornflakes
of 'n roereier in te wurg nie.
Mens
hoef nie jou skoolskoene elke aand te poets nie
Mens
hoef nie kosblikke en skooltasse te pak nie.
Mens vergeet
nie ‘n boek, swemklere
of jou lunchbox by die huis nie.
En
Granny hou nie nael-inspeksie nie –
inteendeel sy moedig die gebruik van
naelpolitoer ten sterkste
aan.
Mens
hoef nie daai aaklige warm
skooluniform te dra nie.
Mens
kan gaan piepie wanneer jy wil
en water drink en oumie gee nie om
as ons so tussen die somme
deur ‘n
hap aan die appel vat nie. Solank
ons net nie boeke bemors nie .
Maar
ons moes al
‘n bladsy
uitskeur na so ‘n klein glipsie –
‘n baie klein enetjie moet ek by sê.
Binnenshuise klaskamer |
Sealed with a piece of chocolate cake of course.
Onderkry die gaan die Departement van Onderwys in Suid
Afrika ons nie. Missy gaan skool kry, kom
wat wil.
Die prysuitdeling aan die einde van die jaar gaan ‘n
spoggerige geleentheid wees. Ek vermoed Missy gaan eerste in haar klas staan en
met ‘n Baie Blink Beker soos 'n regte BBP - (Baie Belangrike Persoon), kamer toe stap. Haar naam gegrafeer op die goud.
Hoop net nie Granny dop Sub B nie.
No comments:
Post a Comment