Die Wals
Daar word al eeue lank oor weduwees geskryf, gespot, gedig en gesing. Oor die algemeen is weduwees vriendelik, viets, ryk en gewild. Die weduwee waaroor ek vandag wil skryf is vriendelik, viets, ryk en gewild in gee en omgee.
Soos dit ‘n weduwee betaam het sy ook met neergeslane oë en donker tabberds die rou-proses sy gang laat gaan. Maar op ‘n dag word die weduwee wakker en besef dat haar geliefde nooit weer saam met haar gaan lepellê, stukkende gloeilampies vervang of rose aandra nie. Dis toe dat sy haar vensters en klerekas wyd oopgooi, die somber rokkies vir die armes uitdeel en die motbolle by die agterdeur uitvee. Die kredietkaart word afgestof en sy sit af winkels toe vir vrolike serpies en bont stewels en sy pluk lentebloeisels vir die blompot in die voorhuis.
Geld vir ‘n Hannon make-over is daar nie, want die oorblygeld, nadat die ontvanger met die boedel afgereken het, moet lewenslank hou. Die bedroefde weduwee verander egter oornag in n vietse vlinder wat ‘n nuwe nessie vind, waar sy tot haar dood toe dolgelukkig gaan woon. ‘n Huisie weg van die rumoer van die stad. ‘n Huisie waar sielsvrede van kamer tot kamer sweef. ‘n Huisie waar voëltjies broodkrummetjies op die voorgras eet en die bure vetkoek en skinderstories aandra. Haar eie paradys-huisie.
Wat die weduwee egter nie weet of raai nie, is dat daar in die einste paradys alreeds ‘n handvol wewenaars gretiglik sit en wag op hul prooi. Soos elke nuwe weduwee wat die poorte van die paradys binnegaan, word sy ook met ‘n ekstra groot vergrootglas bekyk, bespreek en volgens boudjies gegradeer. Wewenaars wat lankal vergeet het hoe ‘n ‘White Linen’ of ‘Red Door’ ruik, hoe sag ‘n vrou se hand voel as dit op sy bo-been rus of hoe warm sy hart klop as sy beminde hom gang af lei.
Nietemin, soos dit enige ordentlik weduwee betaam, skaf jy vir jou ‘n hond, kat, vis of voël aan om die lang ure van eensaamheid meer draaglik te maak. ‘n Kat is n slaapdier, met min werk en van geen nut vir ‘n eensame weduwee nie. ‘n Voël het weer ander nadele, soos vloek en raas as die weduwee wil slaap of die dominee kom huisbesoek doen. Visse aan die anderkant kommunikeer glad nie. Al uitweg was dus maar ‘n hond. Natuurlik mag niemand die hond ‘n hond noem nie, of brak of met enige neerhalende woord na die gediertetjie verwys nie. Hierdie hond is ‘n ordentlike hond. Opreg sê ek jou, baie opreg. Soos enige hond, moet die enetjie gereeld straat op en straat af oefening kry om van die oortollige energie onslae te raak. En dit is presies waarvoor die handvol wewenaars natuurlik geduldig sit en wag.
Nou moet ek bysê dat selfs die wewenaars uit idees raak oor hoe om die vietse, vriendelike weduwees in hul web te vang. Hulle kan tog ook maar net soveel keer voorlangs gras sny of die sipresboompie op die sypaadjie snoei. Maar boer maak ’n plan en een slim wewenaar open vir hom ‘n winkel onder ‘n boom. Daar smous hy met allerhande weduwee-lokmiddels. Hy sorg dat sy boom-winkel elke oggend vars produkte aanbied. Netjies verpak in weduwee-grootte-pakkies. Billike pryse, amper kosprys sê ek jou, want die weduwees moet terugkom vir meer aartappels, meer uie, eiers en lemoene.
Die slim wewenaar het egter nie rekening gehou met die feit dat dit wemel van wewenaars in die paradys nie. Die ander het gou deur sy plan gesien en vroe-more gaan inloer en skinderstories uitruil by die boomwinkel. Kort voor lank is stoele en tafels nadergesleep en die boomwinkel word ‘n gesellige kuierplek.
Die kompetisie is egter baie groot, want nie al die weduwees het heuningby lyfies nie. Elke wewenaar van die paradys wil sy hand of hande op die vietse vrolike weduwee lê. Maar dis hier waar ek ‘n ding sien kom. Daar’s klaar 'n bekgeveg aan die gang oor wie nou eintlik die gelukkig een gaan wees wat die weduwee se hart, guns en soetkoekies gaan wen.
Die arme vietse weduwee is egter nie net die hoof besprekeningpunt op die wewenaars se daaglikse boom-vergadering nie, nee, die weduwees met die nie-so-vietse lyfies en spataar-beentjies hou vergaderings van ‘n ander aard. Vergaderings waar die nuwe intrekker met die vietse lyfie bespreek en veroordeel word. Die vietse weduwee het die kalklig kom steel en hulle, die nie-so-vietse weduwees se koekies- en melktert-aandraery boomwinkel toe, help tans niks. Die wewenaars is almal op ‘n Banting-diet vandat die vietse weduwee die paradys betree het.
Ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar kort voor lank gaan daar ‘n tragedie onder daai einste boom afspeel. Swaardgevegte het eeue gelede al uitgesterf, vuisgevegte kan die stomme manne nie meer bybring nie, want die kragte is min en die vuiste vol rumatiek. Daar sal ander metodes gevind moet word om die swakkelinge uit te skakel.
Die Winkel |
Hahahaha, te precious, dankie!
ReplyDelete