My liefde-lysie
is oneindig lank, maar as ek moet uitsonder, pryk mense, reis en kos heel
bo-aan. Die mensdom lê my baie na aan
die hart. Mense met weemoed en wanhoop, mense
wat honger en dors na wie weet wat ookal.
Mense wat van hoogtes wil afspring oor hulle nie meer kan of wil
voortswoeg nie. Ou mense, siek mense,
sterwendes, swanger dertienjariges, prostitute, padlopers en gehawendes. Mense wat in gutters en onder sinkplate woon en mense wat elke dag die bottel of
die spuitnaald nodig het om te oorleef.
Die wat my ken weet ek kruip graag in gate, hole en plakkerskampe in. Ek
dwaal op die afdraai- en pothole paaie. Ek bedel vir die armes en omhels die boemelaars.
Die lang pad
tussen nêrens en êrens neem my met 'n ompad na die juwele van ons pragtige
land. Maar hierdie blog gaan nie oor my
liefde vir reis, my land en/of die mense wat my pad kruis nie. Nee dit gaan
vandag oor my achilleshiel, kos! Vreemde
kos, etniese kos, kos wat ongemaklik voel op die Afrikaner tong en onbekend op
die boere-volk oor. Soos baie ander,
lees hierdie vrou ook kosboeke eerder as die Ena Murray's en die Wilbur Smith's.
Laat ek dit baie duidelik stel, kosmaak soos in brêkfis vir vol fiemies kinders,
middag-ete vir die tuinman en aandete vir pa en kroos staan my nie aan
nie. Dit bied geen uitdaging nie, want pa
eet net rys, vleis en aartappels volgens sy ouma se resep en boet is op 'n Spur vleis-dieet. Sus lewe van komkommers, ryskoekies en groen
tee. Hoe, vra ek jou, bly mens staande in
die kombuis met so 'n uiteenlopende groep eters.
My kosreis,
met behulp van boeke, mense en die kuber, neem my na vreemde lande. Lande waar ek kennisse, vriende en selfs
familie het. Wie in Suid Afrika het deesdae
nie meer familie iewers buite ons grense nie.
Mense wat moes trek oor die land te beklemmend geword het en oor baie ander
redes. Maar ek gaan nie vandag oor
daardie mense praat nie. Vandag wil ek
vertel van my vriendin in Bhutan en hul liefde vir rissies.
Bhutan, Land of the Thunder Dragon, die piepklein, gelukkige landjie, versteek in
en omring deur die magtige Himalayas, word regeer deur sy jong Koning Jigme
Khesar Namgyel Wangchuck met sy pragtige Koningin, Jetsun Pema aan sy sy. Bhutan is nooit gekolonialiseer nie en sy inwoners is baie trots daarop. Invloede van buite word nie maklik toegelaat
nie. Die meeste van die inwoners dra
daagliks die nasionale drag, die kira vir vroue en die gko vir die manne, en almal
drink botter-tee (Su Ja) om warm te bly.
Ugyen, my
paper friend, soos ons mekaar noem, en haar gesin, woon in Thimpu, die
hoofstad van Bhutan. Die enigste stad
ter wêreld waar die verkeer nie deur verkeersligte beheer word nie, maar deur
die plaaslike polisie met hul unieke handgebare.
Ugyen is ‘n
ingenieur. Sy bou paaie en brue en probeer
lewe as Christen in ‘n land waar 99.9% van die bevolking Boedhiste is. Alhoewel sy volhou dat die Christen God die
een is wat sy nou wil dien, hunker sy terug na haar prayer flags-, kleurvolle shrines-
en monastery dae. Ek vermoed sy gaan
nie lank as Christen staande bly nie.
Ons ken mekaar al jare en ruil ons
land-stories, gesinsgeraamtes en kombuis-lekkertes met mekaar. Sy het my bekendgestel aan onder andere, hul
nasionale gereg, ema datshi, ‘n rissie-en-kaasbredie. Ema datshi is weliswaar te warm vir die
Afrikaanse tong, maar met 'n bietjie verbeelding en minder rissies bly dit ‘n
gereg wat elke rissie- en kaasliefhebber ten minste een maal moet probeer.
Natuurlik is
yakkaas nie beskikbaar in ons land nie, maar so deur die proe- en proefproses
het ek gevind dat Deense Feta net so goed werk. Hier is dus my
aangepaste Afrikaanse weergawe van ema datshi. Ema datshi
word tradisioneel met rooi rys bedien. Bykans
onbekombaar in ons land, alhoewel ek dit
tog al op ‘n rak of twee raakgeloop het.
Bruinrys of gewone langkorrel witrys werk goed as plaasvervanger.
Bestandele:
200 tot 250g groen rissies in lang repe gesny. Verminder as jy nie kans sien vir al die hitte nie en verwyder maar meeste van die pitjies.
200 tot 250g groen rissies in lang repe gesny. Verminder as jy nie kans sien vir al die hitte nie en verwyder maar meeste van die pitjies.
250ml water
1 groot ui
fyn gekap
2 groot, ryp tamaties skilletjies verwyder en
opgekap
1 groot
aartappel in blokkies gesny
250g Deense Feta ook in blokke gesny – nie te klein nie
5 huisies
knoffel fyn gekap
'n handvol
koljander gekap
2 eetl. kook-olie
(nie olyf nie)‘n Handvol ekstra wit harde of semi-harde kaas gerasper (Cheddar, Emmethal, Bokmelk, Gruyer)
Gaar rys van
jou keuse
Metode:
Braai uie en
rissies liggies in olie. Moenie verbruin
nie.
Voeg
tamaties, knoffel en aartappel by en braai vir nog n paar minute.
Voeg water
by en kook vir 10 minute. Meeste water
moet wegkook.
Voeg kaas by
en prut saggies vir n minuut of twee.
Voeg gekapte
koljander en die handvol gerasperde kaas by, plaas deksel op en skakel plaat
af.
Bedien met
rys.
Bogenoemde dis is net vir die wat die hitte van 'n rissie kan vat. Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige ongevalle nie.
Die manne in Ugyen se lewe. Foto vergunning Ugyen. |
Ugyen en haar gesin reg vir skool en werk. Foto vergunning Ugyen |
Koning en Koningin van Bhutan Foto vergunning Imgur |
Log Jay
Gay.
No comments:
Post a Comment