Hierdie storie moet ek so gou as moontlik uit my gestel kry. Nie
net was dit my eerste ongeluk in al die jare wat ek bestuur nie, maar dit
was ook op my mees uitputtenste reis ooit. Nee, nou jok ek. My reis tussen Heathrow en Dubai in
2013, was die ergste. 'n Aar het in my been gebars toe ek 40,000 voet bo
die aarde in 'n vliegtuig gesit het en ses ure van hel het selfs in 'n luukse
A380 soos 'n leeftyd gevoel.
Die wat my ken, weet hoe lief ek die
wapad het. Ek word nie verniet die sigeunervrou of sommer 'Gypsy'
genoem nie. Na 'n paar maande tussen beton en staal begin my sitvlak
kriewel en moet ek my tasse pak
en plek soek waar my voete 'n volgende holte kan vind. Sommige van
die holtes waar my twee voete die afgelope paar jare al gerus het, was
wonderlik en het my met pragtige herinnering gelaat. Ander was
minder nommerpas en ek moes gouer oppak en nuwe holtes vind.
My stokou kar, 'Blou Bliksempie' soos
sy gedoop is, was weereens tot maksimum kapasiteit gelaai toe haar blou
neus, lank voor sonsopkoms, koers kies na die grens tussen Namibia en Suid
Afrika. Die oggend was soel en die dagbreek was op pad. My
eindbestemming, Kaapstad, het 1500 km. ver gelê.
Alhoewel ek bekend is met die
spesifieke roete, bly dit 'n uitmergelende rit. Dis nou een stukkie pad
wat ek nie kan 'sugarcoat' nie. Dis ‘n warm pad in die somer,
hel-warm. Daar is nie bome, wolke of enige vorm van koelte en skadu
op daardie stuk pad nie. Dis woestynland en in 'n woestyn vind
jy min waterstrome of riviere wat kabbelend oor klippies vloei. Afstande
tussen dorpe is groot en nedersettings of gehuggies wat as 'n dorp bekend
staan, is te nederig vir luukses soos 'n '24 Hour-Mobile-One-Stop.' Dis
jy en jou waterbottels, jou biltong (as jy 'n vleiseter is) en jou lemoene.
Gesigwas en piepie vind soms plaas in kleedkamers wat eerder 'n
kleinhuisie genoem behoort te word. Nietemin, my liefde vir Namibia, my
geboorteland, is welbekend en ek weet ek gaan daardie einste droë, dorre
stuk pad iewers in die toekoms weer ry.
My rit het nogtans goed begin.
Dit was nog donker en koel en die radio het vrolike Duitse musiek gespeel.
Die eerste dorp na Windhoek is Rehoboth. Dis 'n pragtige dorpie, met
gemiddeld 20,000 inwoners. Dit is 'n oorwegend Baster
Gemeenskap (een van die baie bevolkingsgroepe in Namibia), wat vandag nog
volgens hul voorvaderlike wette, (paternal laws) lewe. Die afstand tussen
Windhoek en Rehoboth is net onder die tagtig kilometers en meeste van die
werkende inwoners beoefen 'n beroep in Windhoek. Die paar dokters,
onderwysers, prokureurs, staatsdiensmanne en -vroue wat in Rehoboth woon, is te
min om veel diensleweringsinstansies te regverdig. Hier, soos op enige
plattelandse dorpie, is werk skaars.
Met ietwat van 'n irritasie het ek
besef hierdie tagtig kilometers gaan lank neem om klaar te kom. Die
stroom ligte van vooraf het nie vir verbysteek plek gemaak nie. Dertig
kilometers duskant Rehoboth beland ek en meer as twee hande vol motoriste
agter twee trokke wat waterhouers vervoer. Die houers reik hoog die lug
in en maak verbysteek nog meer onmoontlik. Die uiteinde van die saak is
'n dertig kilometer-lange afstand, teen 'n spoed van hoogstens 60 kmpu.
Ek en stadig ry is nie baie goeie maats nie en ek was terdeë bewus van die
feit dat ek nog 1500 km. moes ry voor ek my bestemming sou bereik.
Stadig maar seker het my kraag begin rooi raak, maar van die van julle wat
al ooit in so 'n situasie was, sal weet, rooi kraag of nie, sit die sit jy
agter daardie trokke.
Die dertig kilometers was egter gou
vergete toe my kar se wiele singend die pad Mariental toe vat. Mariental
is die grootste vesting van die Namas (nog een van die bevolkingsgroepe in
Namibia).
Dit is geleë naby die Hardap dam wat
die grootste reservoir in Namibië is. Dit verklaar dus die hoeveelheid
plase in die omgewing.
'n Honderd of so kilometers nadat ek
Mariental se stof agter my gelaat het, was ek rustig op spoed en het
uitgesien na ‘n stewige ontbyt op Keetmanshoop. Meeste motoriste neem 'n
blaaskansie op Keetmanshoop, want van daar af raak die niks al meer.
Almal van ons wonder seker op een of
ander stadium van ons lewe, hoe ons tot onse einde gaan kom. Siektes soos ma
en pa, oupa of ouma of gaan ek my einde in 'n vliegtuig, boot of te perd
tegemoed gaan. Persoonlik het ek maar altyd gereken dit sal iewers
op 'n pad wees. Bloot omdat ek bekend is vir die hoë spoed waarteen
ek ry en tweedens oor ek so baie ry. Ek ry ver en ek ry vinnig! Toe ek dus op die spul boerbokke in
die pad voor my afkom, toe weet ek daardie dag het aangebreek. Ek is
nie baie slim nie, maar ek het baie gou besef ek is te naby daai spul
boerbokke en my spoed is te hoog. Self met die beste ABS-remme het
jy 'n minimum afstand nodig om jou motor tot stilstand te bring, en daardie
afstand die het ek nie gehad nie.
Toe ek die eerste boerbok tref en hy
deur die lug trek, toe weet ek: hier kom 'n lelike ding. Met bok nommer
een uit die pad is daar toe nog 'n see van boklywe voor my. Bok twee word getref
en hy slaan neer op die warm teerpad. Natuurlik veroorsaak sy val toe 'n
domino-reaksie en bok drie val en ek sien en hoor hoe bok vier val.
En net daar word hulle deur Blou Bliksempie die ewigheid in gesleep. Of hulle nou gemaak het hulle is dood en of hulle werklik dood was, die
sal ek nou ook nie kon se nie, maar daar was geen skop of asem in daardie
bokke meer oor nie.
Ek kom uiteindelik tot stilstand en
staar in ongeloof na die spul dooie bokke om my. Bok nommer een het
egter op hierdie stadium nog lê en skop. Daardie twee sterwende oë en
vier skoppende pote sal ek lewenslank onthou. Ek is van nature nie
baie lief vir diere nie. Slange en perde is omtrent al diere vir wie
ek ooghare het, maar diere doodmaak was darem nog nooit iets waarvoor ek
bekend was nie. Ek is 'n kampvegter teen dieremishandeling, jag, geblikte
leeu skietsessies en mense wat bloot 'n pragdier sal skiet om 'n
opgestopste koedoekop teen sy voorhuis se muur as trofee te kan uitstal.
Toe ek uiteindelik tot verhaal kom,
klim ek met jellie-bene uit en bekyk die skade. Op daardie oomblik
besef ek dat ek liewer as ooit is vir Blou Bliksempie en dat ek nooit enige
ander kar as 'n Volkswagen op my werf sal toelaat nie. Die skade aan
my motor was minimaal en ek was ongeskonde. Ek kyk rondom my, verby die
bokke, op soek na ‘n mens. Iewers moet daar tog iemand wees wat vir
hierdie bokke verantwoordelik is. Maar daar is niemand in sig nie.
Ek klim sleepvoetend terug in my kar en ry verder. Nie ver gery nie
toe sien ek die veewagter in my truspieëltjie. Ek sien hoe hy sy
rooi vlaggie waai en vir 'n oomblik oorweeg ek dit om om te draai, maar ek
besef ek gaan dalk onverantwoordelike gedrag openbaar as ek voor hom
staan, want na die skrik kom die woede.
Woede oor daar n draai in die pad is, woede oor die afwesigheid van 'n veewagter met 'n rooi vlaggie, woede oor die
bokke en die veld dieselfde kleur het en sommer groot woede vir die boer wie
se boerbokke dan nou juis daardie tyd van die oggend 'n hoofpad moet kruis.
Natuurlik verdwyn my eetlus as ek
skrik en van ontbyt op Keetmanshoop is daar toe geen sprake nie.
Keetmanshoop, soos so baie Namibiese dorpies, het ontstaan as 'n
sendelingstasie. Die dorp is vernoem na die Duitse handelaar, Johann
Keetman wat die sendelinge finansieël ondersteun het.
Ek sluk toe darem 'n energiedrankie,
eet 'n stuk gesmelte sjokolade en hervat my reis. Die hitte is
ondraaglik, want my kar se lugversorging werk nie, maar ek hou van hitte en begin
uitsien na my volgende stopplek: die grenspos tussen die twee lande.
Nie lank nie of 'n motor van voor
waarsku met flikkerende ligte. Onmiddelik verminder ek spoed, want
dit is gewoonlik die teken van 'n verkeerskonstabel wat wag vir sy of haar volgende
prooi.
Toe nie! Hierdie keer was dit
nie 'n draai in die pad wat vir my 'n onsmaaklike verassing gebring het nie, maar
'n bult. My oog is op soek na 'n wit motor met 'n blou lig en dit neem my
meer as 'n sekonde om te sien wat voor my in die pad aangaan. 'n
Mens-grootte skildpad, besig om stadig en statig aan my kant van die pad
te stap. Regs kan ek nie verby nie as gevolg van aankomende verkeer en
links het ek nie genoeg spasie nie. Ek besef ek is te naby daardie groot
skilpad vir stop. Die gedagte: "Vandag is daardie dag wat jy dit nie
gaan maak nie" gaan weereens deur my kop. Ek weet tot vandag toe nie
hoe ek om daardie skilpad gekom het sonder om hom dood te ry of sonder om
my kar om te gooi nie, maar ek moes iets reg gedoen het. Natuurlik
is die skrik toe weer terug in my lyf en ek wonder op hierdie stadium
hoeveel skrik 'n lyf op een dag kan hanteer.
Buite sing die sonbesies en die
kraaie gaap. Ek drink liters gevriesde water en gooi 'n bottel yswater
oor my kop. Die termometer se kwik het al verby 42 grade Celsius
geklim. Die ysige waterstroompie wat neklangs teen my rug afloop,
bring egter verligting. Van Keetmanshoop af word die pad al
stiller en dis hier waar onheilige gedagtes deur jou kop begin maal. Daar
is min motors op die pad; geen hulp, sou
iets gebeur nie en 'n son wat genadeloos op jou bak. My uithouvermoë
word hier tot op die uiterste beproef. Nou moet ek noem dat diere in
Namibië dieselfde reg op 'n nasionale pad het as 'n motoris. Op
hierdie stadium was al my lyf-, kop- en sintuig-radars op vol sterkte
aan’t werk en ek trap rem vir elke voël, muishond en akkedis. Vir nog 'n
dieredood gaan ek beslis nie verantwoordelik wees nie.
Nie lank nie toe gevaar ek 'n
slingerende motor voor my in die pad. Met die naderkom lees ek aan
wie dit behoort: NAM POSTAL SERVICES. Ek besef die man kan nie
dronk wees die tyd van die oggend nie en vermoed hy is besig met 'n geveg
teen die slaap. Hy swenk gevaarlik van links na regs en ek begin
wonder hoe ek by hom verby gaan kom. Ek sien egter nie kans vir 'n
tweehonderd kilometer rit agter 'n spul slingerde possakke wat teen 'n spoed
van 50 kmpu. beweeg nie. Verby sal ek moet verby. Ek wag my kans af
en toe Mnr. Posman sterk links is, verwissel ek ratte en ek sit my voet
stewig op die petrolpedaal. Die arme mens het my natuurlik nie daar
verwag nie en skrik hom buite weste wakker en swenk skerp na regs.
Hoe ek verby daardie swenkende bakkie gekom het, sonder om ‘n ongeluk te
maak, weet ek weereens nie. Ek vermoed my spoed het iets daarmee te
doen gehad en ek besef dat vinnig ry tog soms sy voordele het. Na hierdie
insident is ek toe egter glad nie meer myself nie. Die dood lê en
wag vir my om elke Namibiese draai en bult en ek weet dis 'n kwessie van tyd voor hy my gaan inhaal.
Dis al middel van die dag en al wat
binne my lyf is, is 'n paar blokkies Nestlé sjokolade, liters water en
baie skrik. Ek is oud genoeg om te weet my liggaam het nou kos en koffie
nodig.
Die Namibiese noodlot besluit egter
hy is nog nie klaar met my nie. So in die wapperende wind, wat deur
my venster waai, ruil ek musiek om. Met my linkerhand haal ek die een CD uit
die radio en in my regterhand hou ek die
stuurwiel en 'n ander CD vas. Die volgende oomblik ruk die wind daardie
CD uit my hand en hy vlieg s(n)ykant teen my wangbeen vas. Nou kyk, ek is nie 'n
kleinserige mens nie, maar daardie was 'n seer hou en
die trane begin vloei en ek huil die huil van ‘n begrafnisganger. 'n Huil wat
sommer vir als moet opmaak wat op daardie dag verkeerd geloop het.
Die gewraakte CD word summier by die venster
uitgesmyt. Iewers sal 'n bokwagter hom eendag optel en aan die
voorbok se nek hang.
By die grens gaan dit wonder bo
wonder baie goed. Die Immigrasiebeampte stempel lui-lui my passport
en die polisieman gee my kar een kyk en plak sy stempel op my permit.
Vyftig meter
na die grens is daar 'n klein winkeltjie
wat vir die moeë motoris lafenis moet bied. Ek stap die donker,
stofbelaaide kafeetjie binne, maar vind niks wat ek kan eet nie. Hoe sê die ou
spreekwoord:
Dis toe die kersie op my koek.
Ek verloor my humeur net daar en dan, iets wat nie maklik met my gebeur
nie. Ek bevlieg die vaal mannetjie agter die kasregister en vertel hom als wat
daar te vertelle is oor hulle nie voorsiening maak vir kos vir
nie-vleisetende mense soos ek nie. Ek kon sien hy het die aanval nie
verwag nie. Hy kyk my grootoog en oopmond aan. My bedaar
kom egter skielik, want daardie oog lyk soos boerbok nommer een se oog.
Die een wat ek nooit ooit sal vergeet nie. Toe storm ek die kafee uit,
sonder kos en water.
Terug op Suid Afrikaanse bodem is die
dorpe darem nader aanmekaar en ek het weer nuwe moed vir die 800 kilometer
wat nog voor my lê. ‘n Paar kilometers verby Springbok pak die floute my egter
behoorlik. Die skrik, adrenelien, kwaad en seer is weg en al wat oorbly
is 'n intense moegheid, hongerte en dors. Dit sou paslik wees om te
sê ek wou vrek van ellende.
Gelukkig het ek oulike kinders wat my
telefonies van die pad af dwing en reël dat ek oorslaap op Van Rhynsdorp
en die volgende dag met 'n vol maag en 'n goeie nagrus die res van my tog
aanpak.
Ek en Blou Bliksempie hou na dese
natuurlik nog minder van diere. Veral nie van boerbokke met groot
ronde oë nie! Dis tyd dat Blou Bliksempie 'n 'bull-bar' kry, maar sy weier volstrek, want sy is nie 'butch' nie.
Eind goed, alles darem goed soos my ou
vriend sou sê.